Dit het alles in Desember 2022 begin... Twee pare skaam ogies op Ballito se strand... Arnu het die meeste oggende vooruit geloop om solank te kyk waar Bernice en haar ouers sit. Hy wou seker maak hy slaan 'kamp op' naby genoeg aan hulle, sodat hy in die gesigveld kon wees. Sonder dat ons dit tóé besef het, was daardie kosbare oomblikke, die begin van ons mooi feëverhaal. Ons storie is besonders, juis in die eenvoud daarvan. Ons eerste 'date' gebeur op 4 Januarie 2023. Ons gesprek het net van die eerste oomblik af gevloei. Ons het onophoudelik gesels ~ soveel só, dat slegs die toeslaan van die deure met sluitingstyd ons daar uitgedryf het, maar hierdie twee langasems was nog lank nie uit woorde uit nie ... só het ons die gesels eenvoudig net verskuif na die volgende kuierplek. Op daardie báie spesiale eerste aand, het ons reeds geweet: hier is iets kosbaar. Presies ’n jaar later, op 4 Januarie 2024, het ons besluit om ons verhouding amptelik te maak. Dit was ’n besluit wat alles wat ons op daardie eerste afspraak vermoed het, bevestig het. Ons harte het lankal geweet: dis die ander deel van my hartklop. Ons ondersteun mekaar deur elke seisoen. Ons lag saam, maak saam grappies en ons kies mekaar elke dag. Ons liefde is opreg, lig en vol vreugde. Op 26 Julie 2025 het ons verloof geraak - ’n oomblik wat ons vir altyd sal koester. Nou stap ons hand aan hand vorentoe, dankbaar vir waar ons begin het en opgewonde oor alles wat nog voorlê. Hierdie is ons storie - en dit is net die begin.