Bruidegom
Bruid
Strooijonker
Adriaan se klein boetie wat altyd bereid was om saam met sy ouboet buite te speel, selfs al wou hy nie eintlik nie. Al verskil hulle wêrelde is die broederliefde sterk genoeg om hulle na aan mekaar te hou.
Strooimeisie
Ons gunsteling derde wiel! Al verskil Katerien en Willemien ses jaar is hulle soos 'n tweeling - tipiese vinkel en koljander, dikwels aan die giggel oor een of ander grappie. Hulle spesiale band het ook oorgespoel in Adriaan en Katerien se verhouding, en aan hulle geterg aan tafel saam met Willemien se gesin weet enigiemand dat sy die tipiese kleinsus vir ons altwee is.
Strooijonker
Ook bekend as "Cuzzie"! Jean-Luc deel Adriaan se liefde vir sport en die twee nefies het al TE VEEL balle oor mure en in broodbome in geskop; beslis kop-in-een-mus van dag een af.
Strooimeisie
Marlé-Zanne en Willemien het dieselfde waardering vir goeie skryfwerk en lekker rooiwyn! Marle het vinnig van 'n mede Afrikaansstudent in familie verander oor die laaste drie jaar in Stellenbosch. Willemien sal enige avontuur met Marlé-Zanne aan haar sy aanpak, of dit nou 'n oorseese reis of die najaag van 'n sperdatum vir nagraadse studies is!
Strooijonker
As die enigste seun met drie sussies is dit nie verbasend dat sy bynaam "Boeta" is nie. André se grootste wens toe hy klein was, was om 'n boetie te kry. Willemien het haar bes gedoen om hierdie rol te vul deur met hom te stoei en sy liefde vir jag te deel; en 21 jaar later kry hy uiteindelik 'n broer in Adriaan!
Strooimeisie
Anne is die sussie wat Willemien 'n ousus gemaak het. Hulle was mekaar se heel eerste beste maatjies! Selfs al verskil die twee soos dag en nag, het hulle elkeen 'n sagte plekkie in hulle harte vir mekaar. Anne se liefde vir kosmaak het Miena al talle kere goed te pas gekom, veral aangesien Willemien nie so gretig is om vir haarself kos te maak nie.
Strooijonker
Toe Adriaan en Brenden mekaar op 'n Voortrekkerkamp in die hoërskool ontmoet het, het hulle min geweet dat hulle toekomstige pasmaats beste vriendinne is. Die kombinasie van Adriaan en Bren se streke met Miena en Essie se kattekwaad, sorg altyd vir prettige kuiers. Bren se flymskerp humorsin en bok-vir-sports gees skuil agter sy stil geaardheid.
Strooimeisie
Met hulle donker hare word Miena en Essie dikwels as sussies misgis. Esmari is ook 'n gemeenskaplike vriendin wat die rol van Cupid in ons lewens vertolk, aangesien Adriaan en Willemien op skool deur haar ontmoet het. Willemien en Essie is van plan om vir Adriaan en Brenden nog baie grys hare te gee!
Strooijonker
Adriaan en Jacques kon nog skaars woorde vorm toe vorm hulle al 'n vriendskap. Hulle vriendskap is 'n konstante deur verskeie lewensfases, en meer as 20 jaar later maak die twee nogsteeds staat op mekaar.
Strooimeisie
Toe Willemien en Nika op die heel eerste dag van universiteit ontmoet en hulle gedeelde liefde vir tale ontdek, het Willemien geweet dat sy 'n skat raakgeloop het. Ses grade tussen die twee later en die goue vriendskap het in 'n konstante in hulle lewens verander. Fyn besonderhede en deernis is ewe belangrik vir die twee, en dit stel hulle in staat om mekaar te ondersteun deur die berge en dale van die lewe.
Strooijonker
Beter bekend as “Blommie”. Adriaan en Blommie se vriendskap het begin as mede jeugwerkers van 'n woelige groep seuns by die kerk. Nie-so-vinnige koffies by die kerk en weeklikse kuiers by die selgroep het vinnig deel van hulle roetines geword. Selfs al is Blommie 'n WP ondersteuner.
Strooimeisie
Suzaan en Willemien se paadjies het op hoërskool gekruis en toe die twee weer sien het hulle ware sielsussies in mekaar gevind! Haar sagte hart en omgee vir haar medemens inspireer Willemien elke dag. Die twee is altyd gereed vir 'n stappie in die berg of 'n koppie tee om die fyner dinge in die lewe in kleur en geur te bespreek.
Predikant
Ian stap al 'n lang pad saam met ons. Willemien was deel van Ian se eerste belydenisklas en hy het gou in 'n leraar en vriend verander, daarom het hy ook nie sy raad teruggehou toe Willemien die eerste keer vir Adriaan by die kerk aanbring ses jaar terug nie! Ian het ons geleer om die Here en ons vriendskap die fondasie van ons verhouding te maak, en daarom is dit vir ons baie spesiaal dat hy ons gaan trou.
Seremoniemeester
Willemien was tien jaar oud toe Reynders, 'n familievriend, by haar ouers kom werk en bly het. Kort voor lank het hy 'n pasella Ouboet vir Willemien en haar sibbe geword en werklik soos nog 'n lid van die Meyer gesin gevoel. Reynders en Willemien hou mekaar nootvas wanneer hulle in die kar saam met die musiek sing, en aanspreeklik vir die gebruik van suiwer Afrikaans.