For I know the plans I have for you,” declares the Lord, “plans to prosper you and not to harm you, plans to give you hope and a future.
Cari: Ek het vir Derick ontmoet toe ek vir ’n kort tyd as kelnerin gewerk het net voor ’n skoolvakansie. Na ’n paar dae se opleiding, het ek my eerste amptelike dag begin en hy was een van my eerste kliënte. Ons het dadelik lekker gesels, en van die begin af was ons vir mekaar ’n lig in ’n tyd toe dit so nodig was. Later het Derick tydens gebed vir die Here gebid: “As dit U wil is, laat dit wees. As dit nie U wil is nie, laat dit nie wees nie.” En toe loop ons mekaar sommer weer die volgende dag raak. Van daardie oomblik af het ek God se hand duidelik in ons storie gesien; Sy liefdevolle, soewereine teenwoordigheid in elke stap. Nou, amper ’n jaar later, staan ons op trou. Toe Derick my vra om te trou, was dit meer as wat ek ooit kon vra of droom. God se goedheid deur Derick; my liefde, my lewensmaat, dit laat my in opregte verwondering en dankbaarheid. Ek sien so uit om saam met hom vir die Here se eer te leef, Sy Naam groot te maak en te sien hoe God hom deur Sy genade al hoe meer soos Jesus vorm. Die vrug van die Gees in hom is iets besonders. Daar is soveel om te waardeer, soveel om na uit te sien. Ek is opreg dankbaar. Ek het vir Derick oneindig lief. Derick: Van die dag wat ek haar ontmoet het, het sy my asem weggeslaan. Sy het met daardie pragtige glimlag ingestap, en ek het net geweet daar is iets besonders aan haar. Ek het daardie selfde dag vir die Here gebid: “As sy deel is van U plan vir my lewe, laat dit gebeur.” En kyk nou staan ons op die drumpel van ons troue, gereed om saam ’n nuwe lewe te begin. Cari is my rots wanneer ek swak voel, my energie, my glimlag, my veilige plek. Sy dra lig in elke kamer waar sy instap, vrede in elke stilte, en sagtheid in elke oomblik. Ek is so dankbaar vir die vrou wat sy is; liefdevol, sterk, en vol van God se genade. Tot die einde van my lewe sal ek by haar staan, haar liefhê, eer, en elke dag meer van haar wil hê. Ek sien uit na die storie wat God vir ons skryf en die lewe wat nog voorlê. Sy is my grootste seën, my gebed wat beantwoord is, en die liefde van my lewe. Ek is ongelooflik lief vir Cari!