Ons paadjie begin in die strate van Kenridge. Draf, stap, kos maak, kaart speel en oor en weer kuier, met Riaan Benade wat in die agtergrond speel. Dis eers 'n rukkie later wat ons eintlik agterkom dat ons mekaar se geselskap meer geniet as bloot net vriende. Toe ons terug ry uit Struisbaai en dit nie een keer stil is nie, moes ons erken dat daar beslis iets aan die broei is. Na baie oorweging om seker te maak of dit die moeitewerd is om die vriendskap na die volgende stap te neem, is ons op ons eerste "date". Nog 'n paar "dates" later is daar besluit dat Koortzenputs die maak of breek sal wees. Daardie Desember na Kersfees word daar Vredendal toe gery, dieselfde dag nog terug Kakamas toe en van daar Koortzenputs toe. 12 Hekke later stop ons voor die plaashuis. Bykans die hele familie is daardie vakansie op die plaas. Na 'n suksesvolle vakansie op die plaas, is daar beslis 'n paar boksies afgemerk aan beide kante. Einde Januarie 2021 word die vraag met al ons gunsteling eetgoed, kerse en piekniek in die woonstel gevra. Van daar voltooi ons mekaar se legkaart, deur dik en dun. Vir een jaar sien ons mekaar bykans elke naweek. Ons verken saam die Kaap se wynplase, draf, kamp en geniet mekaar se geselskap. Toe kom die groot nuus. Charl moet Kakamas toe verhuis. Sonder enige twyfel is daar besluit dat afstand geen invloed op die verhouding sal hê nie. Vir twee jaar lank is daar vakansie na vakansie Interkaapbus gery en op die plaas kom kuier. Te danke aan Frudata het Charl ook nog redelik gereeld in die Kaap gekom. Langafstand was nog nooit so maklik nie. Dankie tog vir selfone, goeie kommunikasie en oneindige liefde vir mekaar. Einde 2023 kry Liomé 'n pos by Oranje-Noord en die langafstand is verby. Wat is 80km as jy dit op meet teen 800km. Ons kwartaallikse kuiers verander na weeklikse kuiers. Ons verhouding raak net sterker en sterker. Einde September 2024 is daar uiteindelik 'n oop naweek en Charl vra die volgende groot vraag. Met baie reëlings, is dit 'n baie groot en aangename verrassing. Ons is verloof. Nie lank daarna, hoor ons dat LSK in 2025 'n pos het. Aansoek gedoen en gekry. Alles werk altyd uit presies soos dit moet, want die Here is in beheer. Op Sy tyd en nie ons eie, het ons paadjie perfek uitgewerk soos dit moet.