Hulle gaan wayyy terug. Terug na die dae van Hello Kitty-hemde en Tommie Tekkies. Hulle liefdesverhaal het reeds in hul kinderjare begin. Brendan het by sy maatjie oorkant die pad van Simone se ouma se huis gaan kuier en het reeds op die ouderdom van agt vir Simone gevra om met hom te trou. Ongelukkig kon Brendan dit nie daardie dag al vasmaak nie, en hul paaie het eers weer ná skooltyd gekruis. Simone voel egter dat hulle nog altyd op ’n besondere manier verbind was, soos ’n stukkie tou wat hulle al lank saamhou. Van die dag toe Brendan oorkant haar ouma se huis kom kuier het, tot die feit dat hulle saam gedoop is, en selfs ’n “mutual” vriend wat veroorsaak het dat hul paaie weer kruis. Hulle glo dat hulle vir mekaar gemaak is en weer bymekaar gebring is in die Here se perfekte tyd. Brendan meen steeds dat hulle baie tyd kon spaar as Simone reeds op agtjarige ouderdom ja gesê het. Tog was dit uiteindelik Simone se smeekwerk, sewentien jaar later, wat hom oorreed het, en toe moes hy ja sê. Hulle lag vir mekaar se grappies, het mekaar lief met hul hele harte, en voel opreg dat hulle die gelukkigste mense is omdat hulle mekaar het. Op hierdie dag belowe hulle om mekaar vir altyd lief te hê, en hulle wil hierdie besondere oomblik graag saam met julle vier.