Tannie Anneke Olivier het ons nommers vir mekaar gegee en van daar af het Roelf sonder om tyd te mors, planne gemaak om die meisie te ontmoet wat hy nog net op foto’s kon sien. Hy het my op 'n "date" gevra vir iets om te drink by Copper Clover en wat begin het as net "ietsie om te drink", het die begin geword van ons vir altyd. Sedert daardie dag het ons saam deur seisoene gestap, vol lag, lang geselsies, gebede, drome en groei. Ons het geleer wat dit beteken om mekaar te kies, elke dag weer en weer. Ons verhouding is van die begin af geanker in ons geloof en ons kan met sekerheid sê: "Die Here se hand is in elke detail." Op 12 Desember 2025 het Roelf op sy knie gegaan en my gevra om sy vrou te word. Dit was ’n oomblik vol liefde en vreugde – ’n gebed wat waar geword het. Ons storie is een van liefde, geloof en God se perfekte tydsberekening. Nou sien ons met opgewondenheid uit na die nuwe hoofstuk wat voorlê vir ons, saam hand aan hand, as mnr. en mev. le Roux.