Ons storie het begin by my niggie Louri en Xillon se troue in 2022, waar ek en Louis mekaar vir die eerste keer ontmoet het. Ek het al soveel stories gehoor van John en Louis en altyd gewonder wie dié Louis is van wie almal praat. 29 Desember 2022 het ek en John op die strand in Nature’s Valley gaan stap. Ek het daar vir hom gesê: “Ek gaan eendag met Louis trou.” John het nie gehuiwer nie – hy het dadelik vir Louis ’n boodskap gestuur: “PS: Mia het besluit sy gaan met jou trou.” Louis se antwoord? “Is dit so? Klink goed brother” Dit was lank voor ek hom leer ken het… maar ek was reg – want nou gaan ek met hom trou. Met die afstand tussen Stellenbosch en Pretoria het dit ’n rukkie gevat voor ons paaie weer gekruis het – tot by Willem en Leandri se troue. Dis waar ons storie regtig begin het. Safe to say – die Gray’s was my wingmen. Daar het ons liefde begin– van ons eerste "date" by die Waterfront in Kaapstad, tot 7 Desember 2024, toe Louis my gevra het om met hom te trou by die Blyde Rivier Canyon. Ek het sonder twyfel ja gesê. My gunsteling vers uit die Bybel was nog altyd Efesiërs 3:20: "Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink." Vir my beteken dit dat die Here ons verwagtinge sal oortref en meer vir ons sal doen as wat ons ooit kon droom. En dit is presies wat Louis vir my is. Die Here het hom na my toe gestuur, en hy is meer as wat ek ooit in 'n man kon droom. En hier is ons nou –Ek kan nie wag om hierdie spesiale dag saam met julle almal te vier nie.
Ek het altyd stories van Mia by my vriend John (haar nefie) gehoor — hoe sy en haar pa die Oranjerivier geroei het, saam 4x4 gaan ry het, hulle gesin kampstories en nog vele meer. Toe ek haar uiteindelik by Louri en Xillon se troue ontmoet, het ek dadelik vir John gesê: “Sjoe, jy het ’n pragtige niggie!” Ek het ook vir John se ma vertel hoe mooi hul familie is. Later het sy gesê: “Nou weet ek jy het van Mia gepraat.” By Willem en Leandri se trounaweek het ek die hele tyd gewonder waar Mia is en wanneer die Boshoffs sou opdaag. Toe ek haar sien aangestap kom by die dam in Dullstroom, kon ek nie my oë van haar afhou nie — sy is die mooiste vrou in die hele wêreld. Daardie aand kon ek nie ophou om met haar te dans nie en het heeltyd gedink aan hoe oulik sy is. Hierdie onvergeetlike naweek was die werklike begin van ons liefdesverhaal. Die afstand tussen ons het dit moeilik gemaak om te kuier, maar soos wat ek haar beter leer ken het, het ek gou besef sy is nie net 'n pragtige meisie nie, sy het ook ’n hart van goud. Sy is 'n baie spesiale vrou. Ek het lank gebid en gewag om my droomvrou te ontmoet en toe ek die duidelike tekens van die Here ontvang het, het ek ongetwyfeld geweet dat Mia die een is wat die Here spesiaal vir my gemaak het. Ek is dankbaar en bevoorreg dat ek dit so vir seker kan weet, vir haar het ek baie lief. Na vele reise Kaap toe en terug net om vir 'n week of twee by mekaar te kan kuier, het ek haar op Signal Hill gevra om my meisie te wees, en later het ek haar bo op die Blyde Rivier Canyon gevra om my vrou te word en sy het gelukkig ja gesê en van daar kyk ons nie vir ’n enkele oomblik terug nie. Nou, terwyl ons ons troudag saam beplan, kan ek nie wag om hierdie spesiale dag saam met julle almal te vier nie.