Op 6 April het Louise se foon met 'n kennisgewing gesing: "Waldo het vir jou gekoer." Daardie virtuele koer het vinnig gelei tot 'n week van ononderbroke gesels – oor alles onder die son. Die chemie was van die eerste boodskap af tasbaar, en na 'n week se intense gesels, was dit tyd vir ons eerste date. Vinnig Vorentoe: Van Eerste Date tot "Die Een" Die eerste ontmoeting het al ons verwagtinge oortref. Daar was 'n onmiddellike, magnetiese aantrekking. Ons het albei geweet die gevoelens is wedersyds, en ons het dit duidelik gemaak met 'n warm soen in die parkeerarea van Hennie's. Die spoed van ons verhouding was 'n duidelike teken dat ons reg was vir mekaar. Daardie Sondag het Waldo al by Louise kom braai, en van toe af was die res geskiedenis! Binne net 'n maand nadat ons gekeis het, het ons alreeds saam na ringe begin kyk – toe het ons geweet: dit is ernstig. Vir Louise was daar twee belangrike toetse: Kan Waldo met haar ouers oor die weg kom, én kan hy die malle pêlle in Albertinia oorleef? Waldo het weliswaar 'n bietjie swaar getrek met daardie verjaarsdag-naweek, maar hy het met vlieënde vaandels geslaag! En vir Waldo was dit 'n maklike saak: Louise het sy ouers ontmoet, en dadelik aanklank by hulle gevind. Die fondasie vir ons lewens was gelê. Die Vraag: Drie Plekke en 'n Groen Ballon Louise het die tekens gesien: Waldo het die ring. Sy het vir vier weke lank oor die verlowing genag en elke uitstappie as 'die oomblik' gesien. Waldo, die man van verrassings, het haar laat raai! Die Saterdagmiddag het begin met 'n cocktail by Hartenbos – die plek waar hy haar vroeër so cheezy uitgevra het met 'n slot op die muur. Niks. Volgende was 'n cocktail by Caffé Gannet. Louise was oortuig tannie Amand en Oom Gerhard sou nou agter n muur uitsprint. Weer niks! Uiteindelik het ons afgesukkel Punt toe – 'n plek van rus en refleksie. Dit was toe, met 'n groen ballon wat Boetie Bam se deel van ons lewe simboleer, dat Waldo uiteindelik die vraag gevra het. Dit was eg. Dit was intiem. Dit was ons. Dit was perfek. Van daardie Sondagaand in April tot die dag by Punt, en nou tot by ons beplanning vir ons troudag, is ons reis 'n bewys dat wanneer jy weet, moet jy n kansvat. Ons kan nie wag om ons nuwe hoofstuk te begin nie! Na jare van gebed en hoop, saam met die mense wat ons liefhet, vind ons mekaar uiteindelik, bewus dat ons liefde ’n antwoord is op al die gebede wat ooit vir ons uitgespreek is.