Ons storie het begin aan die einde van Oktober 2020 toe ons mekaar onverwags ontmoet het en natuurlik het sy golden retriever, Johnny, my aandag dadelik getrek. Ons het begin gesels oor ons honde en vir mekaar foto’s gewys. Dit was ‘n eenvoudige gesprek, maar dit het vinnig verander in ure se praat en mekaar bietjie beter te leer ken. Hy het my nommer gevra en van die volgende dag af het ons elke dag gesels. In middel November het ons op ons eerste ‘date’ gegaan by Panarotti’s. Ons het van die eerste oomblik af baie gelag en daar was net ‘n gemaklikheid tussen ons. Een van ons gunsteling dinge in die begin was om vir mekaar elke week nuwe liedjies te stuur waarvan ons gehou het. Dit was klein oomblikke wat vinnig groot herinneringe geword het. Ons eerste keer wat ons mekaar weer gesien het, was in Henties, Desember 2020 en op die 29ste Desember het hy my gevra om sy meisie te wees. Van daar af het alles natuurlik gevoel. Ons het mekaar se families ontmoet. Hy het dadelik deel geword van my familie en ek van sy familie. Ons verhouding was nie altyd maklik nie. In die begin was dit ‘n groot aanpassing om iemand lief te hê wat met ‘n kroniese siekte leef, maar hy het gekies om te bly en my te ondersteun op dae wat ek dit die nodigste gehad het. Ek probeer elke dag om hom net so sterk te ondersteun in al sy groot drome en planne. Saam het ons al deur baie dik en dun gegaan. Ons het saam gegroei, saam geleer en bymekaar gestaan deur alles. Ons storie was nog nooit perfek nie, maar dit was nog altyd eg, vol liefde, vriendskap, respek, geduld en ‘n keuse om mekaar oor en oor te kies. En nou begin ons mooiste hoofstuk nog.