Hoof Strooimeisie
Wat is ’n beste vriendin? Dis daardie een spesiale mens wat jou liefhet – nie net vir wie jy is nie, maar ook ten spyte van al jou foute. Dis iemand wat jou hand vat wanneer die lewe storm, en jou nie los wanneer dit donker raak nie. Dis die een wat saam met jou kattekwaad aanvang, lag tot julle trane huil – en huil wanneer daar niks anders oor is nie. Sy is meer as net ’n vriendin... Sy is ’n engel wat God self op jou pad gestuur het – om jou hart te ken, jou siel te troos en jou lewe mooi te maak. 'n Sussie wat ek vir n leeftyd sal liefhe.
Strooimeisies
Nikita ’n Skoonsussie soos jy… Jy het nie net my boetie se hart gewen nie, maar sommer ook myne. Jy is die een wat liefde in sy oë bring en lag in julle huis. Jy’s ’n sussie wat ek nie self gekies het nie, maar wat die Here het. ’n vriendin, ’n geselskap, en nou deel van elke spesiale oomblik. Kayla ’n Skoonsussie is iemand wat... nie net jou familie deur 'n troue is nie, maar jou vriendin deur keuse. Sy verstaan jou man beter as enigiemand anders (want, kom ons wees eerlik – dis haar broer!). Sy lag saam, luister sonder oordeel, en is altyd daar met raad. Sy deel nie net familiebyeenkomste nie, maar ook geheime, grappies en spesiale oomblikke. ’n Skoonsussie is daardie ekstra bietjie liefde wat by die familie ingekom het – ’n vriendin vir altyd, met ’n hart van goud.
Blommemeisies
Klein onstraaltjies wat ons dag nóg helderder maak. Met blommetjies in die hand en vonkel in die oë, strooi hulle nie net blare nie — maar ook liefde, lag en lewe. Hulle laat almal glimlag sonder om eers te probeer, en hul sagte teenwoordigheid bly vir altyd in ons harte. Klein prinsessies met groot gees – deel van die liefde, die vreugde en die herinneringe wat ons koester.
"My Something Blue"
Julle vriendskap beteken die wêreld vir my. Daar is nie genoeg woorde om te sê wat julle alles vir my beteken nie. Dankie vir elke lag, elke kuier, elke laatnaggeselsie en elke stil oomblik waar julle net daar was. Dankie dat ek altyd op julle kan staatmaak — in goeie én moeilike tye. Vir beter vriendinne kon ek nie gevra het nie. Ek is so dankbaar vir julle… en vir julle het ek lief.
Hoof Strooijonker
’n Beste vriend is iemand met wie jy herinneringe deel — van al die kuier, die goeie tye, en selfs die slegte. Iemand wat altyd aan jou sy staan, en wat, maak nie saak waar nie, net ’n WhatsApp ver is. Hulle is die een wat jou verstaan sonder om te vra, en by wie jy altyd kan aanklop, sommer net omdat.
Strooijonkers
Erel ’n Swaer is ’n broer met wie jy jou vrou kan boelie, maar ook die man na wie jy altyd kan keer. Iemand met wie jy kan lag, kuier en sommer lekker kan gesels, die ou wat jou altyd aanmoedig en bystaan in goeie en slegte tye. ’n maat, ’n broer, en soms ’n medeskuldige — maar altyd ’n waardevolle deel van die familie. Grant ’n Swaer is nie net die man wat jou sussie se hart gesteel het nie, maar ook die een wat soms al die bier in die yskas op drink. Hy is ’n vriend wat altyd ’n goeie tyd bring, met wie jy kan lag, kuier — en selfs diep gesels, oor alles wat saak maak en alles wat nie saak maak nie. ’n swaer is ’n maat, ’n vriend, en deel van die familie, al steel hy dalk af en toe jou koue bier.
Ringdraers
Die klein woelige seuntjies wat jou laat lag tot jou maag pyn, en jou oë laat rol wanneer hulle weer eens stout is. Hulle bring vreugde, baie energie en ’n hele klompie geduld, maar bo alles laat hulle ons harte oorloop van liefde. Met hul onskuldige glimlagte en klein voete, maak hulle hierdie dag nóg meer spesiaal
Ons "Something Old"
Genie het die eer om ons “something old” te wees – ’n ware oompie met ’n hart van goud. Altyd gewillig om te help, solank daar net ’n koue verversing na die tyd is! Dankie, Genie, vir alles wat jy nog altyd met soveel liefde en lojaliteit vir ons doen. Jou teenwoordigheid bring nie net lag nie, maar ook ’n gevoel van tuiskoms. Jy is ’n legende in jou eie reg – en elke tradisie is ryker danksy jou.
Natuurlik ons honde kinders!
Ons klein bondeltjies liefde wat deur die erf hardloop wanneer hulle jou sien, altyd gereed met ’n nat soen en ’n kwispelende stert. Hulle bring vreugde en lag in ons huis, hou ons lewens interessant met hul kattekwaad en vul ons harte tot oorloop van onvoorwaardelike liefde.
Mamma van die Bruid
Ek sal nooit genoeg dankie kan sê vir die besonderse voorbeeld wat Mamma nog my hele lewe is nie. Mamma is vir my die beeld van wat dit beteken om ’n ware vrou te wees: sterk, maar sag; ferm, maar liefdevol. ’n Perfekte balans van wysheid, warmte en genade. ’n Godvreesende vrou wat haar geloof uitleef in alles wat sy doen. Ek sal elke dag daarna streef om so goeie vrou soos Mamma te wees — en ek is oneindig dankbaar dat ek só ’n voorbeeld in my lewe het. Ek is en sal altyd onbeskryflik lief wees vir Mamma.
Ons engele in die Hemel
Alhoewel ek alles sou gee om julle op my troudag by my te kon hê, weet ek die engele jubel en juig oor julle teenwoordigheid daarbo. Ek glo met my hele hart dat julle saam met my vier — net van 'n ander plek af, waar liefde sonder einde leef. Julle sal vir altyd ’n plek in my hart hê. Nie ’n dag gaan verby sonder herinnering, sonder verlange nie. Die leegheid wat ek voel, is die afwesigheid van julle liefde… daardie unieke warmte wat net julle kon gee. Lag maar lekker daar bo in die wolke, dans saam met ons in Gees, en hou daardie plek vir my oop… totdat ons mekaar weer sien. Ek is oneindig baie lief vir julle. Vir altyd en altyd
Mamma van die Bruidegom
’n Ma is iemand wat altyd regstaan – met liefde, drukkies en raad, en Mamma was daardie iemand… elke dag, sonder ophou. Dankie dat Mamma ons geleer het om lief te hê, maar meer nog – om liefde te wys, in dade en in woorde. Dankie vir die sagte hand waarmee Mamma my grootgemaak het, en vir die geduld en genade waarmee ek gevorm is. As ek vandag terugkyk, weet ek: die man wat ek is, is gebou op die liefde van ’n ongelooflike vrou. Ek is trots om Mamma se kind te wees — en oneindig dankbaar vir alles wat Mamma is.
Pa van die Bruidegom
Dankie, Pa, dat pa my geleer het wat dit beteken om ’n hardwerkende man te wees. Dat pa my gewys het hoe om vir my familie om te gee en altyd my verantwoordelikheid na te kom. Pa is iemand op wie ek altyd kan staatmaak — ’n vaste rots in my lewe, ’n stem van wysheid, en ’n hand wat altyd help wanneer ek dit nodig het. Ek is dankbaar vir alles wat pappa vir my beteken, en vir die liefde wat ek in soveel maniere elke dag ervaar. Ek is lief vir Pappa