Dit het alles in die gange van Hoërskool Landboudal begin. 'n Nuwe seun het pas daar begin skoolgaan, en hy het onmiddelik Emily se oog gevang. Hy het dit nog nie geweet nie, maar die stil blikke en gesteelde glimlagte het reeds die weg gebaan vir iets veel groter as tienervlinders. Met die vrymoedigheid wat net jong liefde kan bring, het Emily haar pad na sy nommer gevind – deur 'n vriend van 'n vriend, natuurlik – en daardie enkele boodskap was die vonk wat dit alles laat begin het. Soos die meeste hoërskool romanses, was hulle s'n nie sonder 'n paar dorings en hobbels in die pad nie. Die lewe het hulle getoets met oomblikke van afstand, mis kommunikasie en die hoogte- en laagtepunte van grootword. Maar deur dit alles was daar iets onwrikbaars tussen hulle – 'n aantrekkingskrag wat hulle altyd weer bymekaar gebring het, elke keer net sterker en sekerder. Teen die tyd dat albei gaan studeer het na skool, het hul storie reeds tot iets diepers gegroei. Saam het hulle nuwe uitdagings in die gesig gestaar, mylpale gevier en 'n liefde gebou wat nie net in romanse gewortel was nie, maar ook in vriendskap, vertroue en gedeelde drome. Hand aan hand het hulle gegroei – nie net as 'n paartjie nie, maar as individue wat mekaar voortdurend gekies het, oor en oor. Nou, na jare se lag, laatnag-gesprekke en menigte herinneringe, het hul harte hul na die mooiste hoofstuk tot nog toe gelei. Met God as middelpunt van hul verhouding en die onwrikbare liefde en ondersteuning van hul familie en vriende, is ons nou gereed om "Ja" te sê en ons volgende hoofstuk en toekoms vir ewig saam tegemoet te stap.
Jou teenwoordigheid is die grootste geskenk van alles, en dit is vir ons 'n voorreg om hierdie vreugdevolle geleentheid met jou te kan deel. 'n Geskenk is nie oorbodig, maar 'n geldjie is meer wat ons benodig. Spaar jou voete die loop, ons sal eerder self wil koop.