In November 2021 is Louise saamgenooi Hartenbos toe — deur haar vriendin, haar kêrel, en sy vriende van Secunda. Louise was aanvanklik huiwerig… dié vriendegroep het immers ’n reputasie gehad! Maar sy het ingestem, sonder om te besef: sy is op pad om haar lewensmaat te ontmoet. Hanco het al van haar gehoor, maar vir Louise was hy nog net ’n naam. Die vakansie sou 12 Desember begin, maar Louise het eers op die 11de ’n troue in Fauresmith gehad. Toe haar liftplanne verander, het Hanco sonder huiwering gesê: “Ons kom haal jou.” Al was dit ’n twee uur lange ompad — vir haar was dit alles werd. Toe sy die oggend in die kar klim en haar eerste woorde begin praat, het Hanco geweet: hier’s moeilikheid… die mooi soort. En kort daarna het Louise dit ook besef. In die son en seelug van Hartenbos het hulle harte stil-stil vir mekaar begin klop. Op 20 Desember moes hulle in Kroonstad groet. Maar toe die nag stil word, het die eerste boodskap gekom… en van daardie dag af het hulle nog elke dag met mekaar gesels. In Februarie 2022 het Louise in Secunda gaan kuier — en toe hulle mekaar weer sien, was daar geen twyfel nie: dié gevoel is eg. Liefde het oor afstand geblom tussen Magaliesburg en Secunda, en op 17 Junie 2022 het Hanco haar gevra om sy meisie te wees. Toe Louise later Johannesburg toe trek vir haar studies en internskap, het hul paaie nader begin loop. En op 19 April 2025, het Hanco op een knie gegaan en gevra: “Trou met my?” Sy het met haar hele hart JA gesê. Die 24 Januarie 2026 vier ons die liefde wat in Hartenbos begin het — en vir altyd sal hou.