Dis nie altyd maklik om sakke vol gevoelens in woorde om te sit nie, maar kom ek gee dit ń go. Ons twee ken mekaar al eintlik vir jare, ek was nog ń klein tjokkertjie toe kom speel die mooi blou oog klong by my boetie. Daai tyd het ek nie veel om gegee oor seuns nie, toe word ons nou mooi groot en hy net mooier. Ek was in Hoërskool toe Dupie my weer sien, ek het soos n geitjie by my suster se skoonma se huis by die trappe opgestap en my oë gerol en terug gekyk na sy kant, net daar en dan hak hy af “daai is my tipe girl”. Ons het toe in 2020 begin gesels, ag niks veel van gekom nie, maar in 2021 het ek besluit kom ek nooi hom vir ietsie koud vir die keel. Nee wat, daar smelt my kniee, dis die mooiste man, liewe genade sy oë blouer as die oseaan, sy glimlag is een van daai waar jy net nie jouself kan keer om te bloos nie, oh en nog nie eers gepraat van sy arms nie. Elkgeval, so gesels ons te lekker en van daar af escalate dit net en daar word ek sy nooi en hy my kêrel. Ons het net die lekkerste tye saam, onophoudelike gelag en onvoorwaarlike liefde. So verlaat hy my, want die man het in Amerika geboer, vir twee jaar van ons verhouding het ek hom 4 maande gesien, dan is hy weer weg vir 8maande, dit was glad nie maklik nie, mense die verlange is iets vreeslik, maar nie te min, ons het dit ge-own! Die derde jaar besluit Dupie, daar is nie ń manier dat hy my weer in Suid-Afrika los nie, die girl gaan nou saam. Ons het toe saam in Amerika gaan werk op die plaas. Bloed, sweet en trane, maar dit was ń belewenis. Ons was skaars ń maand terug in Suid-Afrika toe val hy op sy kniee voor my, ek was speechless, dit was die mooiste ervaring en die beste gevoel om te weet ek gaan die res van my lewe met my beste vriend spandeer. Ons storie in n neutedop voor ek ń boek skryf!