Die Beste Dag van ons Lewens.
En so stap die dae al hoe nader, treetjie vir treetjie, totdat ons voor die kansel staan met ons hande inmekaar gevleg. Ek in my wit rok en jy in jou aardse-kleur pak en vellies. Drie jaar gelede sou ons nooit kon dink dat ons vandag hier sou staan nie. Drie jaar gelede sou ons nie kon droom dat ons iemand sou ontmoet wat ons so uit ons nate uit gelukkig sou maak nie. Drie jaar gelede sou ons nooit kon voorsien dat ons wildste drome sou waar word nie – om as 'n Godvresende paartjie, as man en vrou, met God aan die voortou, voor die kansel te staan. Drie jaar gelede sou ons nie kon dink dat die lewe hierdie wilde, maar opwindende draaie met ons sou maak nie. Mag ons dag gevul wees met al ons geliefdes – nie net as getuies wat saam met ons voor God ons liefde vier nie, maar ook as mense wat bewus raak van die dieper betekenis van liefde. Mag die paartjies en geliefdes wat teenwoordig is, weer opnuut verlief raak op mekaar. Mag God die dag vul met Sy teenwoordigheid, en mag Hy altyd die middelpunt wees van elke viering. Mag ons liefde uitstraal en ander inspireer – nie net vandag nie, maar ook in die toekoms wat voorlê. Mag ek as jou vrou jou altyd respekteer, en mag jy as my man my altyd onvoorwaardelik liefhê. Mag ons pad vorentoe geseën wees met voorspoed en nie teenspoed nie, en mag God Sy seën oor ons lewens stort.