Dit was ‘n Sondag. Franni is dood moeg na ‘n Saterdagaand met die manne en wil net rus. Ingestap by sy woonstel kom Mieke, wat met De’M (Franni se woonstelmaat en Mieke se pêl) gereel het dat sy vinnig op hulle bank wil kom lê voor sy iemand ontmoet by Oranjezicht. In haar eie woorde - “Julle hoef nie eers met my te praat nie” "Needless to say", het hy dit letterlik opgeneem nie met haar gepraat nie. Volgens hom het hy al belangstelling getoon op Hinge en sy het nie reageer nie. Hy het haar opgesom as “way out of his league”. Sy was salig onbewus. Twee weke later is Mieke terug by hulle woonstel vir ‘n braai. Haar eerste indruk van Franni was nie great nie, maar daardie aand het hy opgemaak. Uur vir uur, tick hy Mieke se lysie af: • Lief vir Jesus • Hou van Afr musiek • Snaaks • Sportief • Sosiaal Die aand spreek hulle af om te gaan draf die volgende dag. Mieke raak die oggend wakker en bid dat Jesus leiding sal neem en dat Franni haar sal leer ken vir wie sy is. Die draf eindig met ‘n koffie, en sy is so beindruk dat sy bereid is om De’m se rugby te gaan kyk om bietjie meer tyd met Franni te spandeer. Die volgende dag gaan draf Mieke haar eerste marathon en nooi Franni see toe na die tyd. Sy hou vol dat sy ander mense ook genooi het en dat hulle gecancel het, maar Franni challenge nog steeds die idee. Mieke was nog meer beindruk toe hy haar sinne voltooi by die see, ‘n goeie bats-and-balls partner was en die dag met roomys eindig. Sy was positief en het uitgesien dat Franni haar nooi vir ‘n volgende ontmoeting. Maar wat het gevolg? Absoluut niks. Sy gesels met haar Pa en sê dat sy nie kan verstaan hoekom hy nie uitreik nie, hulle het dan só lekker die naweek gesels. Sy verskoning was dat hy bang was om uit te reik, want hy het geweet as dinge nie uitwerk nie, sit hy sonder verblyf. Twee maande later, net voor Paasnaweek, hou Mieke ‘n ete by haar huis en nooi vir De’M en Franco en sê hulle kan vir Franni ook bring. By die ete gesels Mieke oor hulle beplande KKNK-trip en nooi vir Franni saam, aangesien hy ook die naweek in Mosselbaai sou wees. Mieke kry hom na die Vrydag Paasdiens en ontmoet sy ouers vir koffie. KKNK kom, die fees was bietjie té lekker vir hulle en die aand eindig met ‘n soen in Brians Grill (Oudtshoorn) en lang gesprekke by die du Toits. Mieke was bietjie onseker, want Franni het genoem hy is ‘n introvert (???) en haar lysie het uitdruklik gesê “sosiaal”. Later sou sy uitvind dat hy alles behalwe 'n introvert is. Die volgende dag het Franni gesê hy wil net vriende wees en Mieke het teruggekap "Dankie, maar ek het genoeg vriende". Ten spyte van wat hy sê en sy erge kopseer, kom hy steeds saam see toe met al Mieke se vriende. Die volgende dag het hulle gaan draf by St Blaize - Franni het mixed signals gestuur want hy sê hy wil net vriende wees maar hy bring tog vir haar ‘n Steri Stumpi. Boonop daag hy op vir board games later die middag - selfs al is dit net Tanika en Mieke wat speel. Die Maandag ry hulle saam Kaap toe en daar is nie 'n oomblik van stilte in die 6-uur kar rit nie. Terug in die Kaap, dra hy haar sak op by die trappe en bly boonop nog langer vir koffie. Die Dinsdag en Woensdag is Franni maar stil, maar die Donderdag nooi hy haar om te gaan bulte draf. Dis toe Mieke hom wen by een van die bulte op dat Franni besluit, hierdie meisie kan hy nie deur sy vingers laat glip nie. Van daardie oomblik af, het hy die skoot hoog deur gehad. Mieke is daarna in Namibia vir ‘n week. Hy sê dit was die langste week van sy lewe en na dit gaan daar nie ‘n dag verby wat Franni haar nie toevou in sy liefde nie.