Dit is ongelooflik om te dink hoe ons lewens lank reeds met mekaar verweef was, sonder dat ons ooit werklik ontmoet het. Van kleuterskool tot laerskool en selfs hoërskool, het ons dieselfde plekke gedeel. Ná skool het ons selfs in dieselfde dorp, Wellington, gewoon vir ‘n tydperk. Ons het dieselfde vriende gehad, dieselfde strate gestap en dieselfde sonsondergange aanskou, en tog… nooit het ons paaie gekruis nie. Nie eens ‘n toevallige “hallo” nie. Maar vandag weet ons: dit was nooit toeval nie. Dit was ‘n bewys van God se hand in ons lewens. Hy het ons beskerm en voorberei – Hy het geweet dat daar ‘n tyd en ‘n plek sou wees waar ons nie net mekaar sou raakloop nie, maar waar ons harte gereed sou wees om mekaar te vind. Toe ons uiteindelik ontmoet het, was dit asof alles in plek geval het. Dit was moeiteloos, soos asemhaal. Ons het dadelik geweet – hierdie liefde is anders. Dit is ‘n liefde wat gewag het, ‘n liefde wat bestem was. Ons drome, ons waardes en ons lewensdoelwitte het op ‘n manier inmekaar gevloei wat net God kon orkestreer. Liefde soos hierdie gebeur nie toevallig nie. Dit is ‘n geskenk van Bo, ‘n seën wat ons nooit as vanselfsprekend sal aanvaar nie. Dit is ‘n liefde wat gebou is op geloof, op vertroue, en op die wete dat ons vir mekaar geskape is. Ons sien met opgewondenheid uit na die dag waarop ons voor God en ons geliefdes gaan staan en mekaar trou beloof. Dit gaan ‘n dag van vreugde, liefde en seën wees – en dit sal vir ons soveel beteken om dit saam met julle te vier. Dankie dat julle deel is van ons reis. Dankie vir julle liefde, julle ondersteuning en julle seëninge. Ons hoop dat ons storie vir julle ‘n herinnering is dat ware liefde nie gejaag of geforseer word nie – dit vind sy pad op die regte tyd, op die regte manier, in die hande van die Een wat dit bestem het. Met liefde en dankbaarheid, Braham + Charné