Glo julle in die noodlot? Ons doen… en hier is hoekom. Op 7 Mei 2024 het ons paaie mekaar sommer so “perongeluk gekruis. Amper soos iets reguit uit ’n sprokie. Quintin in Kuruman, Anne-mari in Potchefstroom… twee harte, twee dorpe, en ja – ’n báie, báie langafstand-storie. Eintlik ’n twee-provinsie-liefdesavontuur, as ons presies wil wees . Asof die heelal so ’n bietjie wou wys hy’s in beheer, was Quintin daardie selfde dag oppad deur Potchefstroom, terug van ’n werksreis in Johannesburg. Ek meen… wat ís die kans? Ons het mekaar ontmoet… en net daar het ons “eens op ’n tyd” begin. Van die heel eerste oomblik af was daar iets… anders. Daardie tipe vonk wat nie vra vir toestemming nie, hy gebeur net. ’n Verbintenis wat nie mooi in woorde wil bly sit nie, want dit voel groter as dit. Voor ons mooi kon agterkom, het ons gesels soos twee mense wat mekaar lankal ken. Geen ongemaklike stiltes nie net lag, stories en daardie “waar was jy al die jare?” gevoel. Natuurlik was dit nie net rose en reënboë nie (want watter goeie storie is?), maar eerder ’n paar klein drake langs die pad. Lang afstande, besige dae, en die gewone chaos van die lewe. Maar snaaks genoeg… dit het ons nie uitmekaar gedryf nie. Dit het ons nader getrek. Ons liefde het nie gewankel nie, dit het wortel geskiet en gegroei. Van yskoue Kalahari-winteraande op die plaas tot daardie warm, lui Desemberdae het ons herinneringe begin versamel soos klein skatte. Oor provinsiale grense heen, van Noordwes tot die Noord-Kaap, het ons storie stadig maar seker sy eie ritme gekry… tot alles skielik nog meer interessant geraak het. In Februarie 2025 besluit Quintin toe: Potchefstroom, hier kom ek vir ’n onderhoud… en natuurlik ook vir ’n bietjie ekstra tyd saam (prioriteite, né). Die pad soontoe? Kom ons sê net dit was nie sonder drama nie. Twee padblokkades later, met ’n lisensie wat… wel… ons gaan dit net “karaktervol” noem, en toe nog ’n kar probleem wat eintlik die hele plan moes stop… Maar tog… het hy opgedaag. Veilig. Betyds. Amper asof niks hom daar kon weghou nie. En ja, hy het die werk gekry. Dis toe wat ons besef het: as God se hand oor iets is, maak selfs die grootste struikelblokke net plek vir die regte uitkoms. En net so het ons volgende hoofstuk begin .Uiteindelik in dieselfde dorp, onder dieselfde dak. Die “langafstand” deel het amptelik sy tasse gepak en gegroet Maar wag… die storie raak nog mooier. Op 27 Februarie hierdie jaar het ons ons grootste klein wonderwerk ontmoet. ons pragtige dogtertjie, Anquiné. ’n Perfekte mengsel van liefde, geloof en ’n hele klomp genade. Sy het ons harte voller gemaak as wat ons ooit kon droom… en ja, ook ons slaap ’n bietjie minder, maar dis ’n storie vir ’n ander dag. Vandag kyk ons terug en sien hoe elke draai, elke uitdaging en elke klein wonder ons presies gebring het waar ons nou is. En ons harte? Hulle loop oor van dankbaarheid. En as jy ons vra hoe hierdie storie eindig… wel… ons dink nie dit doen nie. Want ons glo met alles in ons: hierdie is nog net die begin van ons “gelukkig vir altyd”.