Die Here het vroeg al 'n goue garing deur Willem en Marianne se storie begin trek. Hulle het op skool ontmoet in Stellenbosch, maar mekaar net genoeg raakgeloop om die ander van ver af te bewonder. Ons glimlag gereeld oor al die foto’s waar Willem aan die een en Marianne aan die heel anderkant staan - so naby tóg nog nie. Dit was in die hartjie van Simonsrust waar hulle mekaar een middag buite Willem se woonstel weer raakgeloop het. ‘Jammer dat ek moet vra, maar wat is jou naam nou weer?’ vra Willem vir Marianne na hulle ‘n rukkie staan en gesels het. Daar is gerugte dat Willem twee maande lank ‘n nota gehad het om hom te herinner om ‘n koffie te reël met Marianne wat drie huise weg gebly het. Toe die dag van hulle koffie uiteindelik kom het hy sommer sy aandete ook saamgebring en die twee het soos ou vriende die aand omgekuier. Daarna het Willem homself byna elke dag vir ‘n draffie of ‘n koffietjie genooi…