Roelof en Corné het heel perongeluk ontmoet.... Hul paaie het gekruis een Sondagmiddag in herfs van 2015 toe Corné die Britse weer veruil vir 'n bietjie Suid-Afrikaanse son en op vakansie was in Johannesburg. Soos die lot dit nou maar het, het Roelof en Corné by dieselfde kuiergat opgeeindig en besef hulle is eintlik maar net twee outjies van dieselfde hoërskool en dieselfde strate van Alberton (Corne bietjie langer voor Roelof - just saying). Die vakansie was maar kort en Corné is terug oor die see, maar die twee het nog so dan-en-wan met mekaar gesels oor die ‘interwebs’ en Melktertkommisie en Klopjag tunes vir mekaar oor die water gestuur en toe - woeps-waps - kon die twee nie ophou gesels nie. Geselsies het oorgegaan na "vriendelike" kuiers en vakansies in Suid-Afrika en in Engeland. Na omtrent 'n jaar, een of twee "ek-kan-nie-long-distance-doen-nie" breakups en vooruitbeplande Kaapstadvakansies as "baie goeie vriende" het die twee besluit om uiteindelik te keis. Daarna het Corné teruggetrek Suid Afrika toe en Roelof het Durban toe getrek om 'n lewe daar saam te begin. Op 'n vakansie saam met hul twee beste pelle het Corne en Roelof verloof geraak op Calton Hill in Edinburgh, Skotland. Die troue is nou om die draai en hulle sien baie uit om hierdie belofte saam met hul geliefde familie en naaste vriende te deel.