Lank, lank gelede – of om meer presies te wees, op 27 Maart 2022 – het ’n kuier by Janus se ouers se huis tot iets besonders gelei. ’n Vriendin het vir Rianke saamgesleep, sonder om te weet dat daardie dag die begin van ’n lewenslange liefdesverhaal sou wees. Dit was dalk nie liefde met die eerste oogopslag nie… maar Janus kon beslis nie sy oë van haar afhou nie. Hy het nie lank op hom laat wag nie en kort daarna het hy haar na die plaas genooi vir 'n koffie en ’n kuier. Een koppie het twee geword, twee het drie geword, en gou was daar nie meer genoeg dae in die week vir al die kuiers nie. Ons vriendskap het liefde geword, en liefde het ’n lewenspad saam geword. Soos God vir Adam en Eva vir mekaar geskep het, glo ons dat Hy ook ons liefde beplan het. Ons het mekaar gevind in Sy tyd en sal Sy geskenk van liefde met dankbaarheid koester – vandag en vir altyd.